As jy dit wil hê, gee dit!
Een nag het Moeder Teresa vir 'n gesin van agt wat 'n week lank nie geëet het nie, 'n sak rys gevat. Die kinders se ma het toe 'n interessante ding gedoen.
Sy het helfte van die rys gehou en met die ander helfte by die huis uitgestap. Toe sy terugkom, het Moeder Teresa vir haar gevra, 'Waarheen het jy gegaan?' Sy het geantwoord, 'Na my bure toe. Hulle is ook honger.'
Moeder Teresa sê, 'Ek was nie verbaas dat sy gegee het nie; die armes is gewoonlik baie vrygewig. Ek was egter verbaas dat sy geweet het dat hulle honger is. Gewoonlik, wanneer ons swaarkry, het ons nie tyd vir ander mense nie.'
Die Bybel leer ons dat wanneer ons op ander mense se behoeftes fokus, God seker sal maak dat daar ook aan jou behoeftes voldoen word (sien Efesiërs 6:8).
Hier is hoekom dit so is:
1) Om te gee is die sleutel tot seëninge. Jesus het gesê, 'As julle gee, sal julle ontvang. Julle gawe sal na julle terugkom in volle maat, ingestamp, geskud om plek vir meer te maak, tot oorlopens toe vol.'
2) Die saadjie wat jy nou saai, bepaal die grootte van die oes. Geen saad is te klein om te vermeerder nie, mits jy gewillig is om dit te saai.
Deur 'n saak te vind wat groter is as jou eie selfbelang en jou aandag daarop toe te spits, sal jy twee dinge ontdek:
Eerstens, dat dit aanvaarbaar is om jou eie beperkinge te erken, solank jy nie jou lewe daar rondom bou nie.
Tweedens, God se seëninge word vrygestel wanneer jy dit wat jy het, gee, in plaas daarvan om te praat oor dit wat jy nie het nie. As jy dit dus wil hê, gee dit!